Laerskool Elarduspark Wapen

Laerskool Elarduspark

Opedag 2026 — Opvoedkundige Leiding

Reik na die Sterre
opedag.lardies.co.za
Ondersteuning op die Skoolterrein
🤝

Opvoedkundige Leiding

'n Volledige Eenstophulpdiens

Me Melanie van der Walt is Laerskool Elarduspark se Departementshoof van Opvoedkundige Leiding. Die rol van hierdie departement is om te sorg vir die welstand van leerders en gesinne asook ondersteuning te bied op akademiese en emosionele vlak. Me van der Walt is die koördineerder tussen die Eenstophulpdienste, die skoolbestuur en die departement van onderwys.

Arbeidsterapie
Op terrein
Terapeute
Baie jare se ervaring
Spraakterapie
Weekliks
Jeugwerker
Me C Alberts

Arbeidsterapie

Chantelle Snyman staan aan die hoof van die Arbeidsterapie-praktyk by Laerskool Elarduspark. Arbeidsterapie bied spesifieke hulpverlening t.o.v. sensoriese-motoriese vaardighede, fyn motoriek, visuele persepsie en skolastiese probleme (bv. omkerings, lees- en skriftelike probleme).

Ons het 'n volledige toegeruste speel- en werkarea met apparaat. Indien terapie aangedui is, vind dit op 'n weeklikse basis plaas. Die volgende areas kan aangespreek word:

  • Sensoriese stimulasie ‐ bang vir beweging/hoogtes, ongemak met aanraking, sensitief vir kledingstukke.
  • Motoriese ontwikkeling ‐ spiertonus, balans, balvaardighede of midlynkruising.
  • Fynspier-beheer ‐ potloodgreep, inkleur, knip en skriftelike vaardighede.
  • Visuele-perseptuele begrip ‐ omkerings (b/d) en ruimtelike aspekte.
  • Skolastiese vaardighede ‐ lettervorming, lees, leesbegrip, spelreëls of woordsomme.
  • Konsentrasie en werkstempo, kognitiewe begrip, emosionele en sosiale ontwikkeling.

Tuisopdragte ter aanvulling van die terapie word aan ouers deurgegee, indien nodig. Ouers doen navrae by hul Mediese Fondse vir beskikbare fondse.

Opvoedkundige Sielkunde

Die Opvoedkundige Sielkunde praktyk van Minette Emmerich het 22 jaar ondervinding ten opsigte van ouers, kinders en tieners. Die volgende dienste word gelewer:

  • Psigo-Opvoedkundige Assessering ‐ 'n volledige assessering wat u kind se kognitief-intellektuele funksionering, leervermoë, leertempo en akademiese vaardighede evalueer.
  • Assessering ten opsigte van Leerprobleme.
  • Disleksia-, Diskalkulia- en Disgrafia-assesserings.
  • Skoolgereedheid en Ouerleiding.
  • Tall Trees Temperament Fasiliteerder.
  • Dr Kobus Neethling se breinprofiele.

Spraak- en Taalterapie

Het u kind dalk 'n spraak-/taal-/luister-/stem-probleem? Me Jolette van Eck voer siftingsevaluasies by ons skool uit. Hierdeur word gepoog om te bepaal of u kind moontlik uitvalle toon t.o.v. die genoemde areas, en of verdere bemoeienis noodsaaklik is.

Ouditiewe Persepsie speel 'n belangrike rol by lees- en spelvaardighede. Indien verdere spraak- en/of taalterapie noodsaaklik is, vind individuele evaluasie/terapie een maal per week by skool plaas vir 'n 30/60/90 minute sessie. Tariewe word gehef soos voorgeskryf in die Mediese Skemas — ingekontrakteur.

Remediërende terapie

Remediërende Onderrig word aangebied deur Claudia Rautenbach en behels individuele hulpverlening in die leerareas waarmee leerders probleme ondervind. Dit dek taal en wiskundige vaardighede sowel as perseptuele vaardighede wat nog nie bemeester is nie:

  • Motoriese vaardighede — groot- en fynmotories
  • Lees, sinsbou, spelling en taalontwikkeling
  • Voorgrond/agtergrond, ruimtelik, diskriminasie, opeenvolging, geheue
  • Analise en sintese — stadige lees en skryfspoed
  • Leesfoute (bv. die i.p.v. dit), letter- en syferomkerings (34 i.p.v. 43, b/d verwarring)
  • Sukkel met links en regs, op lyne te bly wanneer skryf
  • Onseker oor posisie van woorde (voor/agter/langs/onder)
  • Sukkel met volgordelike rangskikking
  • Sukkel om ooreenkomste/verskille raak te sien (b/p/d, p/q, f/t, u/n)
  • Sukkel om te onderskei tussen klanke wat eenders klink (v/w)
  • Stadige leestempo en swak leesbegrip
  • Beperkte aandagspan en sukkel om opdragte te onthou
  • Sukkel om logies 'n storie te vertel of logiese sinne te skryf
  • Foutiewe uitspraak en lees nie ritmies nie

Spelterapie

Mariana Serfontein werk al sedert 1994 terapeuties as Maatskaplike Werker en sedert 2002 ook as Psigometris en Berader. In 2017 het sy 'n Meestersgraad in Spelterapie (Play Therapy) voltooi en begin fokus op die kind gedurende terapeutiese intervensie.

Haar fokus in die praktyk is die kind tussen 2 en 14 jaar. Sy gebruik gespesialiseerde speeltegnieke om die kind te begelei na 'n beter sosio-emosionele staat. Spelterapie kan positief impak hê op:

Selektiewe mutisme & self-beserende gedrag.

Woede-uitbarstings, simptome van kinderdepressie.

Oormatige angstigheid.

Verlies en rou (egskeiding of afsterwe).

Eetversteurings en emosionele wanbalans.

Swak selfbeeld en selfagting.

Familie-strukture veranderinge en gesinsgeweld.

Gebrek aan motivering en positiewe lewensuitkyk.

Sy help ook graag die kind wat gediagnoseer is met hoogs funksionele outisme om sin te maak van hul wêreld en die wêreld van ander.

Lardie Jeugwerker

Die Jeugwerker by ons skool is Me Caro Alberts. Sy bied ondersteuning aan die hoof, personeel en leerders deur lewensbeleggings, en bied lof en aanbiddingsgeleenthede aan.

Rol van die Jeugwerker

  • Gesels met kinders oor hulle gevoelens (angs, stres, aggressie, negatiwiteit).
  • Staan die leerder en onderwyser by in akute gevalle waar regulering nodig is.
  • Ondersteun onderwysers met wat hulle nodig het.
  • Lei Lardie Lig sessies ‐ die Graad 7 meisies se selgroep.
  • Staan Me Melanie van der Walt by met leerderondersteuning.

Terug na die hoof-Opedag

Verken ons ander kategorieë om meer oor Laerskool Elarduspark te leer.

Terug na Opedag