
Ons is ‘n span toegewyde, entoesiastiese onderwysers wat jou kind liefdevolle versorging en kwaliteit onderrig bied.
Ons leer en lei jou kind om sy/haar volle potensiaal te kan bereik.
Ons rus hom/haar toe met die nodige kennis en ervaring dat hy/sy Graad 1 met selfvertroue kan aanpak.
Nuus
OPEDAG 2025
ELARDUSPARK
Hoekom Laerskool Elarduspark?
Hoekom moet ek Laerskool Elarduspark kies as die skool vir my kind?
Wat maak julle skool beter as ander skole?
Sal my kind veilig wees?
Wat is julle boeliebeleid?
Is die onderwysers voldoende opgelei om my kind te versorg?
Wat is die standaard van onderwys en onderrig?
Bogenoemde is vrae wat ouers gereeld vra as hulle kind vir die eerste keer skool toe moet gaan. Dit is goed dat u daardie vrae vra anders sal u nie gemoedsrus kry oor u besluit nie. Ons by Laerskool Elarduspark besef maar terdeë dat elke ouer so oor sy kind voel, aangesien ons almal al daardie wonderlike ervaring van ouerskap ervaar het. U waardevolste besitting, is u kind en u as ouer wil net die beste opvoeding en onderrig vir u kind hê.
As dit u uitkyk is op u kind se toekoms, is u by die regte skool. Ons voel ook so oor kinders. Ons filosofie oor die onderwys is gebaseer op die feit dat elke kind in ons skool gelukkig moet wees. Kinders wat gelukkig is, werk hard op skool en die voordele daaraan verbonde is legio. Ons doen heelwat moeite om skoolgaan vir ons leerders lekker te maak te midde van harde werk op akademiese-, kultuur- en sportgebied.
Die hedendaagse wêreld stel enorme eise aan ons kinders en moet die personeel van Laerskool Elarduspark daarvan bewus wees om ons leerders toe te rus op alle gebiede. Ons roem ook op die feit dat ons Christelike uitkyk en waardegedrewe onderwys ons leerders se fondamente stewig hou vir die aanslae wat oor elke Lardie se pad gaan kom. Stampe en stote in die grootwordproses is onvermydelik en moet gebeur, maar met die regte leiding en sekere meganismes wat in plek is, maak ons seker ons kinders kom ongeskonde deur hierdie proses van grootword.
Alhoewel die standaard hoog is op akademiese-, sport- en kultuurgebied, moet kinders nog kinders bly. Die plaasatmosfeer wat heers tussen al die kaalvoet Lardies, sorg vir goeie onderlinge gees en ‘n samehorigheidsgevoel. Ons is trots om Lardies te wees en buitestaanders kan dit sien aan ons gedrag en vriendelikheid.
Maar genoeg mooi broodjies gebak oor ons mooi blou skool. Maak ‘n afspraak by die Skoolhoof en kom kyk self. As voornemende ouer moet jy net kom kuier, en jy sal bogenoemde self ervaar.
Sien jou by Lardies
Geskiedenis
Laerskool Elarduspark is in Januarie 1983 geopen met 731 leerders deur Mnr. Grove alombekend as Oom Liggies. Van die staanspoor af was dit duidelik dat hierdie blou skool sterk beginsels, waardes en tradisies voorstaan en ‘n sterk band met hul Skepper behou.
In Augustus 1983 word Dr. Jan van Rensburg aangestel as Hoof. Onder sy leiding word verder voortgebou op die besondere hoë akademiese-, kultuur- en sportprestasies. Mnr. HA Verster neem in 1994 die leisels by hom oor. Lardies vorm ‘n vennootskap tussen die ouerhuis en die skool en leerders voel veilig en geborge. In Januarie 2013 word Mnr. Toy Human as Hoof aangestel. Met sy passievolle leiding is dit duidelik dat die dinamiese jong Hoof alle standaarde wil oortref, dat hy baie lief is vir kinders en dat hy graag die ekstra myl wil loop!
Skoollied
Vergesig oor Monument,
Voortrekker wel en wee –
Pretoria, hoofstad van ons land
en in Gauteng geleë.
Elarduspark, `n skool van naam:
Elarduslaer, skool van eer,
Vir jou staan ons saam
Om doelgerig te werk en leer.
Koor:
Sing saam met ons van die hemelblou
en sing van ons land se goud.
Sing van liefde, geloof en wees getrou
aan God op wie ons bou.
Reikend na die Hoogste Ster,
soek ons wysheid, kennis.
Reik ons hoër reik ons ver en
gryp na wat te wen is.
Soek ons uit die ver verleë,
wat edel is en mooi en goed
en bou daarop
‘n sterk karakter, krag en moed.
Doel en Strewe
Visie
Die skool waar leerders toegerus word.
Missie
Ons strewe na ‘n Lardie wat
trots is op sy/haar skool met al sy tradisies en gebruike; gebalanseerd betrokke is en so goed as moontlik presteer; ‘n netjiese, gelukkige, gedissiplineerde, gemotiveerde, hoflike en verantwoordelike leerder is; met die volgende waardes toegerus word: integriteit, lojaliteit, respek, nederigheid, goedhartigheid; indien hy/sy Elarduspark verlaat, volkome toegerus sal wees vir die lewe daar buite en die geweldige eise van die toekoms.
Ons strewe na ‘n personeellid wat
sy/haar talente en gawes aanwend in die beplanning en verwesenliking van ons doelwitte; bereid is om die belange van leerders voor sy/haar eie belang te stel en bereid is om kollegiale lojaliteit te betoon; tuis sal voel in ons span.
Ons strewe na ‘n doelgerigte onderwyser wat
alles vir sy/haar kind se opvoeding feil het en die skool se waardes hoog ag; gebalanseerd betrokke is by die skool en positief belangstel en ondersteun; ‘n lojale en stewige vennoot sal wees; volle beheer en kontrole oor hulle kinders sal hê.
Ons strewe na ‘n skool
waarin elkeen wat ons missie onderskryf, tuis sal voel; waarop elkeen wat daaraan verbonde is, met reg trots kan wees; waarop ‘n goeie lewenstandaard gestel sal word; met sy eie besonderse karakter, etos en tradisies.
Laerskool Elarduspark streef na die verwesenliking van die volgende doelstellings:
Die handhawing, beskerming en bevordering van Doelgerigte onderwys gebaseer op vasgestelde waardes Die erkenning en beskerming van vryheid van geloof, spraak en assosiasie Afrikaans as die amptelike voertaal en onderrigmedium Hoë onderrig- en akademiese standaarde Buitekurrikulêre aktiwiteite Die uitbouing en beskerming van Die karakter en etos van die skool, die Skoollied, die Skoolwapen en die Leuse van die skool Die opvoeding van leerders tot verantwoordelike burgerskap Personeelontwikkeling en opleiding Die identifisering en ontwikkeling van leerders as leiers Die uitbreiding van die vennootskap met ouers en die breë gemeenskap Strydleuse 2020: Streef na Perfekte visie
Kernwaardes:
As onderwysers en leerders van Laerskool Elarduspark streef ons om die volgende kernwaardes daadwerklik uit te leef:
- Respek
- Lojaliteit
- Goedhartigheid
- Volharding
- Integriteit
- Eienaarskap
BEHEERLIGGAAM 2024

Mnr Johan Leiding
Tesourier & Finansies

Mnr Marius Lombard
Infrastruktuur

Me Idéle Prinsloo
Sekretaresse, Kommunikasie & Sosiale Media

Mnr Philip Cilliers
Regsake & Dissipline

Mnr Alewyn Burger
Strategiese beplanning & Innovasie

Mnr Paul Bester
Besigheidsaangeleenthede & Sport

Mnr Toy Human
Skoolhoof

Me Elize Eloff
Kultuur

Me Rachel Joubert
Graad R, Naskool, Kleredrag & Klerewinkel

Mnr Johnwyn Andrews
Bemarking, Menslike Hulpbronne & Besigheidsaangeleenthede

Me Rochelle van Wyk
Maatskaplik, Opvoedkundige Leiding & Notaris

Me Henriëtte Barkhuizen
Akademie

Mnr Rene du Plessis
Sekuriteit, Veiligheid, Regsake, Dissipline & Finansies

Mnr Gert van der Merwe
Sport

Me Michelle Botha
Graad 4 Assistent
Terrein
Veiligheid
Ons leerders se veiligheid is ‘n prioriteit by ons skool. Twee wagte is 24 uur aan diens om seker te maak dat alle hekke gesluit is en dat die leerders veilig is.
Ongelukkig het ons nie 24 uur sekuriteit rondom die skool vir voertuie nie. Indien u buite om die skool parkeer, moet u asseblief seker maak dat u motor gesluit is. Daar is ongelukkig insidente van diefstal in motors tydens oefeninge en sportbyeenkomste. Wees asseblief op die uitkyk in die verband.
Ons doen asseblief weer ’n beroep op ons ouers. Indien u, u kind kom afhaal en u wag op die terrein moet u asseblief op die netbalveld of op die pawiljoen wag. Die leerders is besig met akademie en dit ontwrig die leerders as ouers op die stoepe of voor die klasse beweeg.
Baie dankie vir u samewerking in die verband.