Laerskool Elarduspark Wapen

Laerskool Elarduspark

Opedag 2026 — Graad 1

Reik na die Sterre
opedag.lardies.co.za
Grondslagfase
✏️

Graad 1

Geborge, Veilig en Klaar vir die Reis

In Graad 1 streef ons daarna om elke Lardie-leerder geborge en veilig te laat voel. Dit is vir ons baie belangrik dat die klasse so klein as moontlik gehou word, sodat elke leerder sy/haar volle potensiaal kan bereik. Ons poog om 'n maksimum van 25 leerders in 'n Graad 1-klassie te hê. Die Graad 1-personeel is 'n span ervare onderwyseresse wat 'n passie vir onderwys het.

Maks per Klas
25 Leerders
Skoolgelde 2026
R31 750
CAPS-vakke
5 Vakke
Robotika
Weekliks

Akademie

Volgens die Kurrikulum- en Assesseringsbeleid-verklaring (NKABV / CAPS) het die Grondslagfase vyf vakke:

  • Huistaal (Afrikaans)
  • Eerste Addisionele Taal (Engels)
  • Wiskunde
  • Lewensvaardigheid ‐ Aanvangskennis, Skeppende Kuns, Liggaamsopvoeding, Persoonlike en Sosiale welsyn

Gr. 1-leerders neem deel aan Interne Redenaars, wat kommunikasie-vaardighede ontwikkel. Skaakafrigting word weekliks tydens skoolure aangebied en is 'n uitstekende boublok vir Wiskunde-ontwikkeling. KDA word weekliks aangebied waar groot- en kleinmotoriese vaardighede ontwikkel word. Leerders se denkvaardighede en beplanningsvermoë word tydens die weeklikse Robotika-periodes ontwikkel.

Dissiplinêre Kode

Dissipline is van kardinale belang. Laerskool Elarduspark se gedragskode is opgeneem in die leerder-dagboek wat aan elke leerder beskikbaar gestel word.

Tydens kwartaal 1 word dissipline hanteer op 'n stelsel waar die kind gewaarsku word en waar elke onderwyseres dissipline hanteer soos nodig. Indien daar 'n daadwerklike probleem is sal die ouers onmiddellik in kennis gestel word.

Vanaf kwartaal 2 word daar streng volgens die skool se gedragskode opgetree. Inskrywings word toegeken vir oortredings en detensie word as straf gegee.

Riglyne wat 'n Graad 1-leerder gaan bemeester

Die onderstaande inligting is slegs riglyne vir wat daar van 'n Graad 1-leerder verwag word om te kan doen.

Fynmotoriese ontwikkeling

  • Sny vorms uit en plak dit
  • Kan vorms uit papier skeur
  • Prente inkleur tussen die lyne
  • Kan eie naam skryf
  • Kan 'n menstekening maak wat besonderhede bevat
  • Hou potlood korrek vas
  • Legkaart bou van minimum 12 stukke
  • Skoenveters vasmaak
  • Minimum 10 krale ryg
  • Knip in 'n reguit lyn

Grootmotoriese ontwikkeling (KDA)

Graad 1-leerders het een keer per week 'n KDA ("Kids Dynamic Activities") periode wat aangebied word deur 'n kundige personeellid:

  • Een been staan, ongeveer 10 sekondes
  • Een been spring
  • Huppel, draai en rigting verander sonder om ritme te verloor
  • Vang en gooi 'n bal
  • Kan postuur by tafel en op mat behou tydens werksessies
  • Kan klim-en-klouter en is bereid om te waag
  • Kruip deur 'n tonnel
  • Skêrspronge

Dominansie, persepsie & lateraliteit

  • Die kind se handvoorkeur moet reeds bepaal wees
  • Kan objekte t.o.v. mekaar plaas, bv. plaas die bal langs die stoel
  • Kan spesifieke letters/syfers tussen ander uitken
  • Kan links/regs onderskei

Wiskunde-ontwikkeling

  • Moet minstens 10 voorwerpe kan uittel
  • Moet voorwerpe volgens vorm, kleur of grootte kan sorteer
  • Ken die verskillende kleure
  • Weet wat is die meeste en die minste
  • Kan voorwerpe na aanleiding van hulle vorm beskryf (vierkantig, sirkelvormig, reghoekig)

Taalontwikkeling

  • Kan oor eie wêreld gesels
  • Kan tye (gister, vandag, môre) korrek gebruik
  • Kan 'n boodskap oordra
  • Kan 'n storie met opeenvolgende gebeure redelik akkuraat terug vertel

Sosiale vaardighede & persoonlike sorg

  • Maak vriende, deel met ander, toon goeie samewerking in groepe
  • Respekteer ander en hul eiendom
  • Kan eie tande borsel
  • Kan skoenveters, knope en ritssluiters vasmaak
  • Kan self aan- en uittrek

Volgende stap?

Lees meer oor die Klerewinkel of begin met die inskrywingsproses.

Inskrywings