Redenaars

Wat is die doel van redenaars?

Ons streef daarna om leerders van Laerskool Elarduspark toe te rus met die nodige vaardighede om suksesvol die toekoms aan te pak. Om jou man te staan en jou sê te sê, kan waarde toevoeg tot enige kind se lewe.  Redenaars gee leerders reeds van 'n vroeë ouderdom af die geleentheid om juis dít te kan doen.  Leerders leer om selfstandig te dink, met selfvertroue te kan praat en verantwoordelik te wees.
 

Organiseerder en afrigters

Me. Eliska  du Plessis dien as  organiseerder en Me. Erika Möller en Chrisna de Bruin as hulp-organiseerders. Leerders kry deurgaans die geleentheid om hul eie toesprake te skryf. Addisionele afrigting vind by die skool plaas vir leerders wat verder aangaan deur die jaar met Super 12 asook die ATKV-redenaars. Hierdie afrigting vind deur die week plaas en tye kan aangepas word.

Keuring

Tydens Interne Redenaarskompetisies wat jaarliks in elke graad plaasvind, kry leerders die geleentheid om deel te neem. Leerders wat tydens hierdie kompetisies goed presteer word die geleentheid gegun om aan siftingsrondtes deel te neem waar moontlike kandidate vir die Super 12 sowel as die ATKV-redenaarskompetisies gekies word. Verder deur die jaar kry leerders ook die geleentheid om aan ander kompetisies soos die Radikale redenaarsfees, Eisteddfod, Pretoria Kunstefees asook die Centurion Kunstefees deel te neem. Daar is dus baie geleentheid vir die leerders om te groei                          
 

Kostes

Addisionele fooie word betaal indien u kind aan 'n fees buite skoolverband wil deelneem. Fooie vir die onderskeie feeste verskil en leerders ontvang vroegtydig inligting rakende die spesifieke fees. Name van bekwame persone wat gebruik kan word vir die skryf van toesprake kan verskaf word indien dit verlang word.
 

Meriete-erkenning

Leerders ontvang die nodige erkenning vir deelname aan Interne Redenaars, ander redenaarskompetisies en kunstefeeste.  Daar word ook jaarliks 'n “Redenaar van die jaar” aangewys in Gr. 1-3;  Gr. 4-5 asook Gr. 6-7.
 

Prestasies

Laerskool Elarduspark het oor die jare puik redenaarsprestasies opgelewer. Thuli Manunga was die eerste swart leerling wat die Nasionale ATKV-redenaars kon wen.  Verder word Laerskool Elarduspark talle kere aangewys as Super 12-Redenaarsskool. Ons leerders blink ook uit by verskeie ander feeste soos onder andere Radikale Redenaars. In 2015 eindig Laueanne Geertsema eerste in haar afdeling by die Landsfinaal van die Radikale Redenaars en Wernich Barkhuizen eindig agtste landswyd by die ATKV.  Wernich barkhuizen neem ook in 2017 weer deel aan die landsfinaal en eindig algeheel 5de van al die deelnemers in die land.
 

Lardies aan die woord:

Louize Smit sê:  “Ek doen redenaars omdat dit vir my lekker is. Dit help my om nie skaam te wees nie.  Ek kan makliker voor vreemde mense praat veral as ek eendag moet werk.”

Wernich Berkhuizen: "Redenaars help my om my man te staan".