Bybelvasvra

In ‘n kompeterende wêreld is die Bybelvasvra die een aktiwiteit wat onomwonde verklaar:  “Wat julle ookal doen, doen dit van harte soos vir die Here en nie vir mense nie” - Kolossense 3:23

Die missie van die Bybelvasvra is om op ‘n prettige wyse ‘n liefde vir die Woord van die Here te kweek terwyl leerders se kennis van die Bybel verbeter.
Die aktiwiteit het ewigheidswaarde, maar help ook met die volgende: groepswerk, leesbegrip, hantering van ‘n groot massa inligting en die ontwikkeling van studie-metodes. Dit skenk aan die leerders ‘n kans om te sosialiseer in ‘n situasie waar dit nie vreemd is om oor die Bybel te praat nie.



Organiseerder

Mev. E Möller

 

 

Hoe kom ek in die span?

Gedurende die eerste kwartaal van die jaar word die betrokke stukke wat bestudeer moet word van die Rapportryers organisasie ontvang. Kort daarna word die stukke aan die leerders beskikbaar gestel. Na ‘n paar sessies waarin die tekste gelees en geleer word, skryf die leerders ‘n toetsie wat bepaal wie in die span sal wees. Tussen 8 en 12 leerders word per jaar gekies.


Wanneer oefen ons?


Om die Bybelvasvra-leerders ‘n kans te gee om voluit deel te neem, vind oefeninge gewoonlik op Dinsdae en Donderdae plaas vanaf 18:30 tot 20:30. Nader aan groot kompetisies word ekstra oefeninge gereël.



Waar neem ons deel?

Daar is twee kompetisies waaraan ons deelneem. Die Super 12- Kompetisie vind gewoonlik plaas vroeg in Augustus. Die Rapportryers kompetisie is ‘n nasionale kompetisie wat oor twee rondtes plaasvind; in Mei en Augustus. Skole vanoor die hele land skryf ‘n gestandaardiseerde vraestel op verskillende plekke.  Al die vraestelle word dan sentraal gemerk en na afloop van die tweede rondte word die top 10 spanne in die land aangewys wat deelneem teen mekaar tydens ‘n naweek van groot pret en baie bederf.



Meriete

Dit is moontlik om ‘n sertifikaat van verdienste of ‘n diploma te ontvang vir Bybelvasvra na aanleiding van die punte wat ‘n span behaal het. Leerders wat tydens die finaal ‘n eerste plek behaal het, ontvang ook ‘n groot vlam vir die buitengewone prestasie.  Leerders wat 3 jaar aan Bybelvasvra deelneem ontvang 'n klein vlam.



Wat sê die Lardies?

Karla Roets: "Ek ruil Bybelvasvra vir niks:
Liné Swanepoel: "Bybelvasvra is my gunsteling aktiwiteit."



Prestasies

In nederigheid is ons dankbaar dat ons al op 5 geleenthede die Nasionale Kampioene was.  Ons het ook al die Super 12- Kompetisie gewen en was alreeds op 8 geleenthede een van die top tien spanne in die land.

Die Bybel is nie net ‘n boek nie – dis die Lewende Woord!  Wat ‘n voorreg vir ons leerders om op dié manier daarmee te werk!